Persian Sheep Doornpoort Persian Stud - one of the prime Persian sheep studs in South Africa
   

Persian Sheep Doornpoort Persian Stud

 


Persian Sheep Doornpoort Persian Stud - one of the prime Persian sheep studs in South Africa
 

 
  Persian Sheep Doornpoort Persian Stud - one of the prime Persian sheep studs in South Africa
 
 
 
 
 
 
   
 
 

 

 
 
 
 
 
 

Nuwe lewe vir historiese skaapras
THEUNS BOTHA

Ondanks die uniekheid van die vet van die Persie-skaap bly die ras betreklik onbekend. Die nuwe voorsitter van die vereniging voer egter reeds planne in die mou om sake te verander.

In die gesaghebbende publikasie van SA Stamboek waarin daar oor feitlik elke denkbare groot- en kleinveeras wat by die vereniging geregistreer is, verslag gedoen word, soek jy tevergeefs na inligting oor die Persieskaap. Trouens, die laaste amptelike joernaal van die Persie-
skaap-telersvereniging waarop Landbouweekblad die hande kon lê, het sowat vier jaar gelede verskyn. Hierin is daar onder meer verwysings na die Skilder-, Blou-, Rooi- én Swartkop-Persie.

’n Kenner van kleinveerasse, dr. Quintin Campbell, skryf in die joernaal dat die Persie se grootste bydrae tot kleinveeboerdery die moederooi is. Dié ooie het ’n groot rol gespeel om die Karakoelbedryf in die land te vestig en in latere gebruik vir die teel van slaglammers. “Vroeër jare was die Persie-karkas redelik aanvaarbaar vir verbruikers, maar vir die moderne huisvrou het die Persieskaap te veel gelokaliseerde vet,” skryf Campbell.
Mnr. Kobus Lötter (50), pasverkose voorsitter van die Persieskaap-telersvereniging, gee toe dat die hedendaagse verbruiker minder vet op sy bord wil sien. Hy meen egter die hoofrede waarom die ras betreklik onbekend gebly het, eerder toegeskryf kan word aan gebrekkige bemarking om die ware potensiaal van die Persieskaap te belug. “Ek twyfel of daar ’n ander kleinveeras is wat meer afgeskeep is. Persies word hoofsaaklik aangehou sodat hul vet en vleis in die winter saam met wildsvleis verwerk kan word vir die maak van wors.
“Vir baie boere is dit net ’n skaap wat hulle ‘aanhou’ en waarmee hulle nie in die ware sin van die woord ‘boer’ nie. Die geharde, lae-onderhoud skape word meestal op die swakker dele van die plaas aangetref waar hulle min of geen aandag deur die loop van die jaar kry nie.”

Lötter sê dat die onkunde van baie telers ’n verdere nadelige invloed op die bedryf het. “Min boere is met die rasstandaarde vertroud. Skape met die verkeerde stertvorm en ongewenste kleurpatrone wat nié aan die rasstandaarde voldoen nie, kom algemeen voor. Dit bring mee dat die be-skikbaarheid van voortreflike teelmateriaal beperk is.”

Volgens hom is daar heelwat afbrekende sienings van die ras. Die algemene opvatting is dat die skape baie kleiner as ander vetsterttipe-skape is wat in Suid-Afrika aangetref word. “Hoewel hulle inderdaad kleiner is, is dit nie noodwendig ’n nadeel nie. Hulle vreet minder, het ’n goeie loopvermoë en ’n boer kan tot 1,3 keer soveel Persies per hektaar aanhou as wat die geval sou wees as daar uitsluitlik met grootraam-skaaprasse geboer word. Omdat meer skape per hektaar aangehou kan word, beteken dit ook ’n hoër wins per hektaar.”

Dan is daar ook die markpleinstorie dat roofdiere besonder lief vir Persie-lammers is. “Die rede is bloot omdat Persies maar aan die genade van die natuur oorgelaat word. My ervaring is dat boere slegs na die Persies omsien as die winter aanbreek. Hulle tel dan hoeveel lammers daar is wat geslag kan word om saam met wildsvleis te verwerk.”

Lötter meen indien met lamtyd meer aandag aan Persies gegee word, die aanwas en winsgewendheid van die ras eienaars sal verstom. “Waar daar goed na die diere omgesien word, is hul laminterval die kortste van alle kleinveerasse.”
Hy glo dat die Persie ’n ideale ras vir kleinhoewe-eienaars, leefstyl- en opkomende boere is omdat hulle mak word en nie draadkruipers is nie. Hulle blaas ook nie maklik op nie, aangesien hulle nie gulsige vreters is nie. Die feit dat hulle in verskillende kleure kom, maak hulle besonder geskik vir mense vir wie die estetiese van belang is.

Lötter boer sedert 1982 op die plaas Doornpoort naby Willowmore met onder meer Angoras, Boerbokke, Merino’s en Wit Dorpers. Hy sê hoewel hy al voor sy huwelik ’n paar Persies aangeskaf en hulle later met Dorpers gekruis het, het hy gou sy fout agtergekom. “Ek het oral begin soek na diere wat vir my mooi was. Dit is net jammer dat ek destyds nie meer aandag aan die rasstandaarde gegee het nie.”

Volgens hom is dit eintlik net in die Noord-Kaap waar daar op redelik groot skaal met die ras geboer word. In die Oos-Kaap is die troppe baie kleiner en word net tussen 50 en 200 skape deur boere aangehou. Daar is tans 30 lede wat as telers geregistreer is. “Die verskil tussen die Persie en ander vetsterttipes is dat eersgenoemde se vet olierig is en nie harde vet is nie. As dit nie hiervoor was nie, het die ras dalk al verdwyn.”

As voorsitter sien hy dit as ’n uitdaging om alle boere wat Persies het, aan te moedig om hul diere volgens die neergelegde rasstandaarde te selekteer en om dít wat hulle reeds het “mooier” te maak. Dit is veral belangrik dat die stert hoog aangeheg sal wees. As dit te laag is, kan hulle “pisbrand” kry omdat die urine teen die lyf na die grond val.

Hy meen nie hulle moet veel groter geteel word nie. Dié ras tel onder die kleinraam-skaaprasse. Op die ouderdom van 12 maande weeg hulle gemiddeld 40 kg. Teen die tyd dat hulle vier tande het, sal hulle sowat 54 kg weeg en sowat 33 kg uitslag.

Lötter sê Persie-ramme is betreklik goedkoop en kan nog vir tussen R1 000 en R1 500 aangeskaf word. Tydens ’n onlangse veiling op Beaufort-Wes is daar egter ’n ram vir R6 000 verkoop en is kudde-ooie tussen R1 000 en R1 400 van die hand gesit.

Daar is verskillende kleurtipes, naamlik die swartkop, die swart Skilder, die rooikop en die rooi Skilder. Hoewel die bouvorm van die swart tipes oor die algemeen beter is as dié van die rooies, is daar tans ’n goeie vraag na die rooi Persies. “Daar behoort egter groter aandag aan die kleurpatroon gegee te word – party boere reken hulle het Skilderskape, maar dan is dit skimmels wat nie aan die rasstandaarde voldoen nie.”

Lötter word warm onder die kraag as hy gevra word of die Persie met die Afrikabokke vergelyk kan word.

Laasgenoemde se pryse het oornag die hoogte ingeskiet net omdat die kleurpatrone iets is wat die verbeelding van mense aangegryp het. Dit het egter nie naastenby die kommersiële waarde as, byvoorbeeld, Suid-Afrikaanse Boerbokke nie.

“Nee, die Persie se bouvorm kan nié met dié van die Afrikabok vergelyk word nie. Ons diere is baie vrugbaar en het beslis ’n beter karkas,” gooi hy wal.

Omdat die genepoel in Suid-Afrika betreklik klein is, is Persie-ramme ook nie volop nie. Daar is ook ’n tekort aan voortreflike, vroulike teelmateriaal. Hy hoop dat die kursusse wat nou landwyd aangebied gaan word ’n groter bewuswording vir die ras sal skep. “Die grootste uitdaging is om boere aan te moedig om net goedgekeurde ramme te gebruik.”

Lötter, wat net drie jaar gelede tot die bestuur van die Persie-telersgenootskap verkies is, meen dat dié diere vandag die Aspoestertjie van kleinveerasse in die land is. Hy wil graag sake omkeer omdat hy oortuig is dat hulle ’n plek in die land het. “Al wat nodig is, is dat ons ’n nuwe bewuswording daarvoor skep en die diere wat daar in die land oor is, beter maak,” benadruk hy.

Later wanneer daar foto’s van die Persies met hul koddige gesiggies geneem word, verstaan ’n mens nogal wat hy bedoel het toe hy so liefdevol na hulle as sy “papegaaitjies”, verwys het.

Landbouweekblad 21.08.2009


 

 

© 2011 Van Rooyenskraal

home | boer goats | persian sheep | dorpers | contact us | Persian Sheep Doornpoort Persian Stud resources

website development,search engine optimisation by ZAWebs Designs website development
web hosting by ZAWebs Hosting web hosting South Africa

Persian Sheep Doornpoort Persian Stud